Gesels met ons op WhatsApp: 083 225 5156 Epos: exito.stim@gmail.com
HOE KAN EK MY LEERDERS SE LUISTERVAARDIGHEDE VERBETER?
Gepubliseer op 1 April, 2019
Waarom moet ek honderd keer praat voor die kinders aandag gee?
Waarom moet ek instruksies soveel keer herhaal want daar is altyd nog een wat nie gehoor het wat gedoen moet word nie?
Waarom sukkel kinders so om vrae te beantwoord oor stories wat gelees word?
Waarom dwaal kinders se gedagtes so gou tydens mat werk?
Klink dié bekend?
Die is algemene vrae wat uit juffrouens se monde kom en ’n kort antwoord is dat kinders se luistervaardighede nie so goed is nie.
Daar is baie redes waarom kinders se luistervaardighede nie goed is nie.
Hulle kan dalk nie goed hoor nie; hulle sukkel dalk om toepaslik op ouditiewe stimuli te reageer, met ander woorde hulle sukkel om onnodige klank uit te skakel en om aandag te gee aan noodsaaklike klanke; of kinders sukkel met die begrip van wat hulle hoor. Maar daar is ook ’n algemene tendens dat kinders sonder enige groot ouditiewe uitdagings sukkel met luistervaardighede.
Een van die groot redes is dat kinders min geleentheid kry om in absolute stilte tyd deur te bring. Weens tegnologie is daar altyd geluide in ons omgewing hetsy ’n waaier, ’n yskas, ens. Dit het verseker van kleintyd af ’n effek op kinders se vermoë om geluide uit te skakel. En daarom is kinders en volwassenes se luistervermoë so verkillend. Hulle hoor dus die yskas en die man wat gras sny en die musiekklas langsaan en mis soms dit wat juffrou dan sê. Dit is dus noodsaaklik om ons jong maats reeds van vroeg af te leer om op sekere klanke te fokus en ook om hulle geleentheid te gee vir absolute stilte. Dit is verseker iets wat u as juffrou by ouers kan aanmoedig – om alles af te sit, al is dit net vir 10 minute, en net in absolute stilte te sit en te luister na natuurlike klanke soos die voëltjie in die boom ens.
Wat is die 5 Luisterstappe?
Hier volg ’n paar algemene riglyne om kinders se aandag te kry en te behou wanneer belangrike inligting gedeel word: Probeer onnodige klanke so ver moontlik uitskakel Laat die kinders hulle hande op hulle koppe sit of hulleself ’n drukkie gee en vir juffrou kyk terwyl jy instruksies gee. Hierdeur skakel ons die moontlikheid van vroetel tot ’n mate uit sodat hulle op juffrou kan konsentreer. Die diepdruk wat die twee aktiwiteite bied sal ook help om hulle aandag te fokus. Leer julle leerders van so vroeg as die 3-4 jaar klas dat ons met ons hele lyf moet luister sodat hulle ’n bewuste aksie tot luister kan neem wanneer juffrou sê, “Luister, maats”. Nou hoe doen ons dit? Vra vir die maats, “Hoe luister ons?” – lig jou hand en wys een vinger vir elk van die volgende:
1. Ons oë kyk vir juffrou
2. Ons hande is stil op ons skouers
3. Ons ore luister wat juffrou sê
4. Ons mond is toe
5. Ons brein dink mooi oor wat juffrou sê
Hulle sal in die begin nog nie mooi verstaan nie, maar sal sommer vinnig leer wat die 5 luister stappe beteken en dit later outomaties kan toepas.
Hier is ’n paar oefeninge vir in die klas om luistervaardighede aan te moedig.
Indien jy sien dat ’n kind werklik na een maand van daaglikse luistervaardighede oefeninge geen verbetering toon nie, verwys hom/haar na ’n arbeidsterapeut. Julle skool kan ook inskakel by Exito se stimulasie program vir skole met aktiwiteite vir elke week wat alle areas van ontwikkeling dek.
Luister en teken:
Gee vir die kleiner maats ’n inkleur prent. Juffrou gee instruksies.
- Kleur die hoed rooi in.
Teken lyne van bo na onder met blou. Teken nou lyne van die een kant na die ander kant met groen. Ens.
Teken ’n sirkel. Teken nou ’n vierkant.
Teken ’n 2 en ’n 5.
Dink aan wat jou kinders reeds kan doen en gee opdragte met slegs instruksies; nie eens jou hande mag ’n aksie wys om hulle ’n leidraad te gee nie.
Luister en Bou:
Sit ’n groen pennetjie in die middel. Sit ’n blou pennetjie langs die groen pennetjie ens.
Bingo
Maak bingo kaarte vir die kinders met prentjies.
Vries
Speel musiek en die kinders moet dans. Wanneer die musiek stop moet almal vries. Die kan reeds met die 2-3 jaar klas gespeel word.
Musical Chairs
“Musical chairs” van so klein as die 2-3 jaar klas. Dans met sekere bewegings op sekere liedjies. Leer liedjies met bewegings bv. stap soldaatjie ens.
Lees 'n storie
Lees ’n storie en vra vrae na die tyd.
Leer gediggies
Gediggies leer is 'n oulike manier om kinders te leer luister en die ritme van gediggies is baie pret vir hulle.
Speel Telefoontjie
Laat die maatjies in 'n sirkel sit en fluister vir die eerste maatjie 'n boodskap in sy oor. Hy moet nou dieselfde boodskap vir die volgende maatjie fluister en so gaan dit aan tot ons by die laaste maatjie kom wat dan moet sê wat hy gehoor het. Vergelyk dit met wat jy as juffrou dan vir die eerste maatjie gesê het.
Speel "Simon Says"
Simon sê: Raak jou toneSimon sê: Raak jou neus met jou linkerhand Simon sê: Spring op en af
Luister na stories op die radio
Luister na stories op die radio.
Ogies toe!
Kinders loop toe oë en jy verduidelik, bv. gee een tree links, loop twee tree vorentoe, ens.
Raai watse dier is ek?
Speel ’n dier se geluid en hulle moet sê watter dier dit is.
Lees en klap
Lees ’n storie waar ’n woord baie voorkom, bv. as die storie oor Mia muis gaan moet hulle elke keer as hulle die woord Mia hoor hande klap.
Geluide Skattejag
Gaan op ’n geluide-skattejag en kyk hoeveel verskillende geluide julle kan identifiseer.
Exito Stimulasie Program:
Ontwerp deur Arbeidsterapeute in samewerking
met Onderwysers
vir Onderwysers!
Marianne Kotze
Marianne Kotzé het in 2011 haar kwalifikasie in Arbeidsterapie (B.Arb) aan die Universiteit van Stellebosch ontvang. Sy het toekennings ontvang aan die einde van haar studies vir die beste akademiese prestasie oor die verloop van 4 jaar, die beste bestuur van ‘n gemeenskapdiensprojek en sy was deel van ‘n groep wat die prys ontvang het vir die beste navorsingsstudie in 2011 . Sy gaan doen haar Gemeenskapsdiens jaar in Groblersdal in 2012. In 2013 begin ‘n privaat praktyk tussen Bela Bela, Modimolle en Mokophong tot einde 2015 waarna sy na Groblersdal verhuis het en tans steeds in privaat praktyk is. In 2014 begin sy as mede eienaar Éxito stimulasie program ontwikkel en is steeds betrokke by die verdere ontwikkeling van die projek. Sy het in 2017 haar spesialisasie in Sensoriese Integrasie voltooi en is nou ‘n geregistreerde ASI terapeut by SAISI. Sy is ‘n dinamiese terapeut met ‘n passie om ‘n verskil te maak in kinders se lewens.
Cecile Niewoudt
Cecile Nieuwoudt het in 2011 haar kwalifikasie in Arbeidsterapie (B. Arb) aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang waar sy ook deel was van ‘n groep wat die prys ontvang het vir die beste navorsingsstudie in 2011.Haar Gemeenskapsdiensjaar was voltooi in Bethelehem, Vrystaat, in 2012 waar sy by verskeie klinieke in die omgewing gewerk het. In 2013 begin sy in privaat praktyk wat hoofsaaklik gefokus is op kinderontwikkeling en werk in Vredendal, Clanwilliam en Citrusdal en het intussen ook uitgebrei na Leipoldtville. Saam met Marianne Kotzé begin skryf en ontwikkel hulle in 2014 die Éxito stimulasie program en is steeds aktief betrokke by verdere uitbereidings van die program. Met die uitbreiding van haar kennis en persoonlike vaardighede is sy doelgerig om ‘n verskil te maak in kinders se kwaliteit van lewe.
Copyright 2019 - Exito Stimulasie Program - Disclaimer - Privacy Policy