Die Éxito stimulasie program het ontstaan uit die behoefte van voorskoolse onderwysers om optimale stimulasie aan hul skoliere te bied. Die behoefte vir riglyne aangaande spesifieke stimulering op spesifieke ouderdomme het na vore gekom. Weens die feit dat kinderontwikkeling soveel verskeie areas en aspekte het wat interafhanklik is van mekaar, streef die program juis daarna om kinders, 0-6 jaar, ‘n breë area van stimulering te bied om sodoende ‘n bydrae te lewer vir optimale ontwikkeling. Soos gesien kan word in die logo, Éxito, word daar gekyk na grofmotoriese-, fynmotoriese-, sensoriese en perseptuele vaardighede. Éxito se skrywers is beide pediatriese arbeidsterapeute met ‘n liefde en passie vir kinderontwikkeling. Hulle is van mening dat vroeë ontwikkeling die fondament vorm vir die ontwikkeling van alle ander vaardighede wat nodig is deur die loop van die lewe. Dus dra die kind se ontwikkeling ‘n groot deel by tot sy algehele sukses. Die doel van die program is dus om reeds op ‘n vroeë ouderdom te verseker dat kinders se ontwikkelingsfondamente sterk vasgelê word sodat hulle die nodige vaardighede sal hê wanneer hulle skool toe gaan en dat die fondamente gebruik kan word om verdere sukses op te bou. Vandaar ook die naam Éxito, Spaans vir “sukses”. Dit is juis waarna die skrywers streef: om tot ‘n mate by te dra tot elke kind se sukses. Die program gee dus die kind die vaardighede om die wedren te begin hardloop. Dus die leuse “Op jou merke gereed, gaan!” Die program is vir ‘n toets tydperk van een jaar geloods by ‘n Kleuterskool waarna die program gewysig is om verbruikersvriendelikheid en doeltreffendheid te verseker.